Die Dertigjarige Oorlog (1618–1648) was een van die verwoestendste konflikte in Europese geskiedenis. Die oorlog is hoofsaaklik (dog nie uitsluitlik) in Duitsland geveg en het met tye die meeste lande van Europa betrek. Seeoorlogvoering het ook oor die seë gereik en die koloniale vorming van toekomstige nasies beïnvloed.
Die oorsprong van die konflik en die doelwitte van die deelnemers is ingewikkeld en daar kan nie na één spesifieke geval verwys word as die hoofrede vir die oorlog nie. Die oorlog was oorspronklik geveg as 'n godsdienstige konflik tussen Protestante en Katolieke in die Heilige Romeinse Ryk, alhoewel geskille oor die interne politiek en balans van mag binne-in die Ryk ook 'n belangrike rol gespeel het.[7][8] In hierdie fase het die oorlog 'n voortsetting geword van die Bourbon-Habsburg-wedywering vir Europese politieke superioriteit, wat weer gelei het tot verdere oorlogvoering tussen Frankryk en die Habsburg-magte, met minder klem op godsdiens.[9]
Een van die grootste gevolge van die Dertigjarige Oorlog was die uitgebreide verwoesting van algehele streke; tallose gebiede is verweer deur plunderende troepe. Die bevolkings van die Duitse state, die Lae Lande en Italië het aansienlik afgeneem as gevolg van voorvalle van hongersnood en siekte, terwyl vegtende magte bankkrotskap in die gesig gestaar het.
In die 17de eeu was daar van leërs verwag om hul fondse grotendeels te verkry uit buit of huldeblyke (wat afgedwing is in die gebiede waar hulle gestasioneer is). Hierdie metode het 'n soort wetteloosheid aangemoedig, wat 'n swaar las vir inwoners van die beleërde gebiede was. Die Dertigjarige Oorlog is amptelik beëindig met die verdrae van Osnabrück en Münster, as deel van die groter Vrede van Wesfale.[10]